Requiem (tipe mis)

'n Requiemmis vir aartshertog Franz Ferdinand van Oostenryk in die Sint Catherine-katedraal in Sint Petersburg, gepubliseer in 'n Russiese koerant (1914).

'n Requiem of requiemmis, ook bekend as 'n dodemis, die mis vir die dood (Latyn: missa pro defunctis ) of mis van die dood (Latyn: missa defunctorum ), is 'n Rooms-Katolieke mis wat vir 'n gestorwe persoon of persone gehou word volgens 'n spesifieke vorm van die Roomse misboek. Dit word gewoonlik tydens 'n begrafnis bedien, maar nie noodwendig nie.

Toonsettings van die Proprium van die requiemmis word ook requiems genoem. Die term word vandag ook op ander komposisies toegepas wat met die dood, sterfte of rou verband hou – selfs in gevalle waar dit nie godsdienstig of liturgies van aard is nie.

Die term word ook vir soortgelyke seremonies buite die Rooms-Katolieke Kerk gebruik, veral in die Anglo-Katolieke tradisie van Anglikaanse en sekere Lutherse kerke. 'n Vergelykbare diens, maar met 'n heeltemal verskillende ritueelvorm en -teks, bestaan ook in die Oos-Ortodokse en Oos-Katolieke Kerke, asook in die Metodiste Kerk.

Die mis en die toonsettings daarvan ontleen sy naam aan die introitus (inleiding) van die liturgie, wat met die woorde "Requiem aeternam dona eis, Domine" ("Gee aan hulle ewige rus, Here") begin. Die woord "Requiem" is die akkusatiewe enkelvoud van die Latynse naamwoord requies, wat "rus" beteken. Die Roomse misboek, wat in 1970 hersien is, gebruik hierdie frase as die eerste inleidingsantifoon in die formules vir dodemisse, en dit is vandag nog so van toepassing.


© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search